Wednesday 1 February 2012

Vreemde kleure

Waar is die dae toe baba kombersies ligpienk of ligblou was? 

My skool het seker heeltemal te lank terug uitgekom, maar dis nou nog vir my 'magic' om babatjies in ligblou, -pienk, -geel, en 'n sagte babagroen te sien.  Babatjies moet SAG lyk en voel, en lekker ruik. Dit is vir my sinoniem met skone onskuld en perfektheid, amper onwerklik .......

 Daar is heeltemal genoeg tyd vir donker, harde kleure wanneer hulle groter word en self besluit wat hulle wil aantrek.........maar nou ja..........

Ek wil my nou nie regtig soos 'n oumatjie gedra nie, want dan gaan die jong klomp vir my lag (wat hulle in elk geval een of ander tyd gaan doen...!) en toe maak ek die pienk en pers bietie donkerder vir hierdie kombersie.  Ek weet nou nog nie of ek baie mal is daaroor nie, en ek hoop maar die mamma gaan dit 'aanvaarbaar' vind. (sjoe, want dit is 'n groot werk)

Ek ken nie regtig die mamma nie (net van sien  - dalk drie of vier keer).  Dit is my beter helfte se baas, en sy kom so dan en wan hier by die woonstelblok 'n draai maak.

En ek het nou SO gereken:  Ek het tog nie veel anders om te doen nie, wat eintlik 'n klein wit leuentjie is, want daar is baie om te doen, maar my rug is te seer om dit te doen, so sit en hekel is die in-ding (nie dat ek te hard kla nie). 

Terwyl ek so sit en werk aan hierdie skepping sonder 'n patroon, stap my gedagtes op ver paaie:  Gaan sy al hierdie harde werk waardeer?  Wat weet sy van handewerk af?  Gaan sy dink die kleure is outyds? Waardeer hulle al die ure wat hierin gegaan het? Dalk sou pers en oranje meer aanvaarbaar gewees het .......en SO dryf ek myself 'n paar keer teen die mure uit!

Op 'n kol besluit ek toe:  BASTA hiermee!  As niemand meer handgemaakte goetertjies maak nie, hoe sal die jonges van vandag enigsins weet dat goed wel met die hand gemaak KAN word. Alles kom mos van China af!  Gaan Google dit net......en siedaar!

Maar daar is geen 'siel' daarin nie. Elke gedagte van die skepper van 'n handgemaakte artikel is vasgeweef in elke stekie (party goed, party sleg, party ook hartseer en bly). Is dit nie dalk net moontlik dat die klein mensie wat onder hierdie 'gedagte-kombersie' slaap, so 'n bietjie van 'n ander siel kan voel nie?  Alles is tog so afgejaag en plasties vandag.

En terwyl ek hier tik, besluit ek dat dit nie saak maak wat sy of enigiemand anders hiervan dink nie. Hierdie twee hande het dit gemaak.  Daar is energie is. Ek sal waarskynlik nooit die babatjie ken of haar ooit  sien nie, maar dit maak nie saak nie -

 Ek weet elke stekie is geweef met die doel dat dit die ontvanger hiervan se wereld 'n bietjie beter sal maak ............... en dis AL wat saakmaak...............