Friday, 27 April 2012

Van blokke en hoeke en wiskunde ............

Ek hoef dit seker nie eers te sê nie, want julle sal dit kan raai................ my wiskunde was PATETIES op skool.  Ek kan darem optel, aftrek, maal en deel.....maar as dit kom by algebra en driehoeke en dinge, het ek die eerste dag al uit die bus uit geval ......!  Heel moontlik een of ander vorm van kopbesering opgedoen - en dit is waar die 'weirdgeit' vandaan kom! Maar dis nou maar so!

Ek wou vir my 'n onderbaadjie hekel, maar nie sommer ENIGE onderbaadjie nie. Nee.....bietjie iets anders.......en toe draai dit om (saam met die wiskunde-ongeletterheid) en byt my aan die agterstewe!

Ek het sommer dadelik weggeval om blokke te hekel (met die naam hexagon in my kop). Ha ha ha.........heel onbewus van my tekortkoming hekel ek rustig voort, want dit word koud en ek wil dit dra.

Ek kom toe met 'n groot pyn agter dat dit hexagons  toe eintlik pentagons is.  Hoe moet ek nou goeters onthou wat ek in elk geval nie eers op skool geleer het nie ....hehehehe!

So lyk dit toe:

Baie trots op myself (nog voor ek geweet het) begin ek die goed uitpak en probeer dit inmekaar laat pas....... maar NEE, dit WIL NIE PAS NIE!

Nadat al my speelgoed op die grond lê breek my ander helfte die raaisel oop en verwittig my dat dit 5 kante het en NIE 6 nie, en dat hulle nie KAN pas nie.

Ek was op die punt om die hele kaboedel weg te smyt, want ek is nie goed met SUKKEL nie!

Ek het 'n paar draaie gaan stap, koffie gedrink en dit weer aangepak, of (oopgepak).



Soos jy kan sien, moes ek ERNSTIG improviseer, deur al die openinge toe te hekel .....EN nog steeds my sanity in die proses probeer behou.

Nadat manlief 'n paar keer model moes speel sodat ek kon sien waar's my kop en waar's my stert ..........was die einresultaat toe nie TE sleg nie:


Nou sit ek met 'n ander probleem .........of dalk is dit sommer net 'n GEIT!  Ek weet nou nie of ek daarvan hou en of ek lus is om dit te dra nie ..........en dit na AL die frustrasie en deurgekrapte kopvel!

Cheers!

Tuesday, 24 April 2012

Afval-goed ....................

Ek is mal oor hekel en oor wol!  Maar as 'n projek klaar is, sit jy met bietjies-bietjies van alle kleure, diktes en soorte.

Van julle het seker al hierdie goedjies gesien, maar hierdie is eintlik net 'n vinnige 'trip down memory lane' om te wys dat weggooi-goed tog ook iets kan word:

Na my hippie-kombers met al die kleure en geure wol, het ek nogal baie klein bolletjies wat oorgebly het.  Ek het hierdie daarmee gemaak:









.
......en ek is nog steeds besig met daardie afval wol .........klomp klein bolletjies is eintlik SO misleidend, want daar is nog baie wol daar!

Ek is besig om granny squares daarmee te hekel vir 'n 'liefdeskombersie' wat vir iemand in nood sal gaan.

Never a dull moment!   Heerlik!

Cheers

Friday, 20 April 2012

THESE BOOTS ARE MADE FOR WALKING .....deel 2

Dit is nou die derde keer dat ek probeer om aan te gaan met deel 2. Eers wou die foto's nie laai nie, en nou wou dit nie save nie......so kom ons probeer weer.......

Die eerste ry en die ronde motief is nou op die pantoffel vasgewerk.

1.  Nou moet ons die stukkie voor op die voet (bokant die ronde motief) toemaak.  Hiervoor het ek 'n los stukkie gehekel wat so lyk:  Dit gaan afhang van jou pantoffel se grootte en vorm.


2.  Werk die stukkie voor op die bokant van die voet vas.

3.  Nou moet die hele pantoffel toe gehekel word.  Ek het dit in een ry gedoen, as volg: 

Begin in die een hoek (voor op die voet)......

Ek het net een ry gehekel om my pantoffel toe te maak, want ek het tot omtrent in die middel (kant van voet) gegaan met dc's en toe agterom tot weer in die middel van die ander kant tc's gebruik.

Die pantoffel moet nou heeltemaal toegehekel wees.


4.  Afhangende van die vorm en grootte van die pantoffel, moet daar nou voor op die voetgedeelte ge-'decrease' word om die brug van die voet te vorm.  Mens moet dit maar aanpas om te kyk dat die vorm reg is.  Ek het net in die twee voorste hoeke minder gemaak vir 3 rye, toe was dit genoeg.


5.  Nou kan daar net in die rondte gehekel word totdat die boot so lank is as wat jy dit wil hê.

6.  Ek het 2 'squares' gehekel.  Een met 4 rye en een met 3 rye.  Die grote het ek voor aan die been vasgewerk en die kleintjie agter.  Ek dink hoe meer goetertjies jy op die been vaswerk, hoe stewiger gaan die been wees.
En dit is die einproduk:

Dit is nou die derde keer dat ek probeer om aan te gaan met deel 2. Eers wou die foto's nie laai nie, en nou wou dit nie save nie......so kom ons probeer weer.......

Die eerste ry en die ronde motief is nou op die pantoffel vasgewerk.

1.  Nou moet ons die stukkie voor op die voet (bokant die ronde motief) toemaak.  Hiervoor het ek 'n los stukkie gehekel wat so lyk:  Dit gaan afhang van jou pantoffel se grootte en vorm.


2.  Werk die stukkie voor op die bokant van die voet vas.
3.  Nou moet die hele pantoffel toe gehekel word.  Ek het dit in een ry gedoen, as volg: 

Begin in die een hoek (voor op die voet)......


Ek het net een ry gehekel om my pantoffel toe te maak, want ek het tot omtrent in die middel (kant van voet) gegaan met dc's en toe agterom tot weer in die middel van die ander kant tc's gebruik.

Die pantoffel moet nou heeltemaal toegehekel wees.


4.  Afhangende van die vorm en grootte van die pantoffel, moet daar nou voor op die voetgedeelte ge-'decrease' word om die brug van die voet te vorm.  Mens moet dit maar aanpas om te kyk dat die vorm reg is.  Ek het net in die twee voorste hoeke minder gemaak vir 3 rye, toe was dit genoeg.



5.  Nou kan daar net in die rondte gehekel word totdat die boot so lank is as wat jy dit wil hê.

6.  Ek het 2 'squares' gehekel.  Een met 4 rye en een met 3 rye.  Die grote het ek voor aan die been vasgewerk en die kleintjie agter.  Ek dink hoe meer goetertjies jy op die been vaswerk, hoe stewiger gaan die been wees.

En dit is die einproduk:



 Ek hoop julle kry dit maklik reg, want dit is 'n heerlike, warm boot......'n snoesige skoen binne in 'n snoesige skoen ........

Vra asseblief as iets onduidelik is, want ek hoop ek het alles gesê wat ek moes.


Lekker hekel.

Cheers

van sakke en dinge...........

Ek is MAL oor 'n mooi sak .........enige sak.

Handsakkie ................ Grimering-sakkie .................. Inkopie-sakkie...............Aand-sakkie .................maar gewoonlik is dit eerste plat-sakkie!

Handsakke en ander mooi sakke kan mens 'n klein (of groot) fortuin uit die sak jaag.

Ek het iets baie oulik op die internet gesien en besluit om dit op die proef te stel. Hier is die resultaat:


Dit is met 'n gewone plekmatjie gemaak.  Hekel 'n bokant, 'n valletjie, en sit handvatsels aan. Die handvatsels is twee dun serpies met krale omgedraai.  Nou kan jy sommer vinnig 'n handsakkie aanmekaarslaan vir 'n geleentheid ......EN in enige kleur wat jy benodig.

My vorige projek was ook 'n eerste probeerslag. Ryk juweelkleure bly maar my gunsteling.  Meng daardie 'duur' kleure met 'n paar fluweel afval lappies en 'n paar krale, en voila!


Dan is daar nog altyd die ander passie - gemeng met die sakke ........hekel!

Hierdie sakkie is sommer in die motor op pad Kaap toe van 'n kombers se afval wol gehekel.  My twee kleindogters is mal oor hulle sakkie en dis heeldag oor hulle skouers.

EN........die hippie goed is nou weer so in die mode .......dis so reg in my kraal!


Sien.......al is mens platsak, kan jy nog steeds 'n plan maak om 'n sak van een of ander aard vir een of ander geleentheid te hê.

Hoe sê hulle (wie hulle ookal mag wees)?  Pennyless brings out creativeness!

Werk goed vir my. Wie wil nou in elk geval dieselfde goed hê wat almal het?

Cheers



Wednesday, 28 March 2012

These boots are made for walking ........deel 1

Uiteindelik kom ek by my ander 'boot' uit! Ek sukkel nog om te herstel van die baie ver ry in so 'n kort rukkie .........

Soos ek belowe het - al die stappe wat ek gevolg het om hierdie 'boots' te hekel.

Ek het lekker warm pantoffels by PEP gekoop. (Hulle het die mooiste pantoffels, mens weet nie watter om te kies nie). Maar vir hierdie projek hoef hulle nie na iets te lyk nie, hulle moet net lekker sit en snoesig wees.

Ek het ook 'n paar gekies met 'n lekker sool, want ek wil dit nie net vir pantoffels dra nie. Wil sommer die wolwinkel daarmee besoek en dalk gaan 'groceries' ook koop...... vir die dae wat ek nie fyntjies en 'opgedress' wil wees nie, bygesê...... :)


Dit is dalk bietjie moeilik om die swart wol op die swart pantoffel te sien, want ek wou nie dat 'n ander kleur pantoffel deur die wol loer nie.

1.  Hekel 'n lang ketting wat om die pantoffel pas - van agter in die middel, al om die rand van die sool, tot weer agter in die middel.  Ek het 84 steke gebruik, maar dit gaan afhang van die grootte EN die soort pantoffel. Meet dit maar soos jy kettings maak.

Hekel dan een tc in elke ketting. (Die hele pantoffel is met tc's gehekel, behalwe waar anders genoem)


2.  Werk nou die band aan die pantoffel vas. Werk net aan die onderkant vas, by die sool. Anders gaan jy sukkel om later daar te hekel.


3.  Hekel 'n ronde motief in die patroon van jou keuse.  NB!!! Vir die motief is SLEGS sc's gebruik omdat dit andersins te groot sal wees. Weereens gaan dit afhang van die grootte van jou pantoffel, maar ek het 3 rye sc's gemaak.



4.  Werk nou hierdie ronde motief aan die vasgewerkte, gehekelde strook vas - voor op die voet.



Dit is waarvoor ek vandag tyd het.  Ek moet nou gaan 'groceries' koop, ander is hier vanaand net wol in hierdie huis, en ek glo nie Frans en Jaco gaan beindruk met my wees nie...heheheh.

Vra asseblief enige tyd as daar iets is wat onduidelik is.

Lekker 'shop' vir pantoffels, en ..... lekker hekel!

Cheers.

Wednesday, 7 March 2012

The beginning and the end ...........

I've started a new group on facebook and I love it so much, I just want to spend all my time there..............so my blog suffers.

 It's called CREATIVE.  Anything 'arty farty' that anyone makes can be posted there. Crochet, knitting, quilting, dressmaking, pottery, painting, scrapbooking, decorating, home remedies, quotes, ideas, writing, decoupage.....etc. etc..................You're welcome to join us if you want to share your goodies!

Enough of that .....

I'm starting two new projects today:

1.
2.
The same?   Yes and no............same pattern though, but they're for two totally different projects.  I fell in love with the wool and decided to use it for both.  The 1st one will be a throw for my son's (29) bed.

The 2nd one will become my new grandson-to-be's blankie.

..........So much for the new beginnings.......not much left to be said there........for a while anyway.

As far as the end goes ........some of you might know already that I''ve completed my hippy-blanket.
I did not know what to do with the border and had a bit (and still do) of all the colours left, so I decided to use them in the border too. 

It was quite a fulfilling process as I never knew what was going to happen with it next. I started out from a pattern (not the same colors though), but there were mistakes in it, so I chucked the book and decided to do my own thing..........which resulted in 'thinking in the highest (most creative) gear' but it also resulted in this:

It's going to be in my lounge on the couch throughout the winter - which isn't too far away from us - unfortunately.   But I can  imagine hot chocolate, popcorn and movies .................

I'm not particularly fond of the cold winters here in Pretoria, but at least I have SOMETHING to look forward too.

Oh, I forgot to mention .......... a couple of hours of crocheting under it too ..............

Ok, I'm off to my new beginnings.....cheers......



Friday, 2 March 2012

Die tonnel het 'n lig........!

Dankie tog ek begin die liggie aan die einde van hierdie lang swart(wol) tonnel sien. Ek gaan seker vandag my hippie-kombers klaar aanmekaar werk. Dan vir die rand, maar dis nie meer ver nie .........

Tussen al die sukkel-om-te-sien-swart-wol deur werk my koppie oortyd aan wat ek volgende gaan doen.  Die wol vir my nuwe kleinseun se kombersie lê en wag.........(dit gaan natuurlik nie so lyk met al die blou nie)




........En my agterstewe jeuk om by die wolwinkel uit te kom - so ek MOET solank gaan kyk watter wol gaan ek koop vir my volgende projek.

Mens kan mos nie net aan een ou dingetjie werk nie. 

Sou jy nie ook wou gaan 'kyk' nie?  Kleure:  Taupe, rose en off-white.

Hoekom het ek nie drie pare hande nie?

EN ........dan is daar die boek wat my vriendin Retha vir my gekoop het! Daaroor kan ek nou niks sê nie, want .......EK GAAN NOU EERS WOLWINKEL TOE ..........CHEERS!

Monday, 27 February 2012

Nuwe inspirasie ......

Ek het nuwe inspirasie gekry ............al die stunning foto's op die facebook bladsye het my weer woema gegee vir my hippie-kombers.

Dis in elk geval goed om nou bietjie weer te beweeg, want daar is allerhande ander goeters wat ek wil maak, en  vir my kleinseuntjie wat oppad is, moet ouma darem ook tussenin werk.

Nodeloos om te sê ........ek was alweer by die wol-winkel.  Lyk my die wintervoorraad kom nou so stadigaan in, en ek MOET van daardie mooi wol in die hande kry.

Maar terug by die hippie-kombers:


Ek werk dit sommer hier op die mat aanmekaar, dan kan ek mooi sien waar moet wag gaan .........maar ai, my rug!

Hier is sommer iets oulik om julle dalk ook lus te maak vir die tuin .....vir oulaas, voor die winter weer kom:


Ek wil dit ook nog iewers inpas........en hierdie bootse is nogal nie goedkoop nie, maar nou ja ......


Nou's dit eers tyd vir aandete..............lekker hekel .....

CHEERS!

Monday, 20 February 2012

Nuwe dinge .......

Sjoe, ek is nou eers bietjie moeg ge-hippie-kombers. 

Ek het besluit dis tyd om vir moeder iets te maak. Haar nek kry altyd koud in die winter en ek dink hierdie is net die ding om daai probleem op te los .

Enigste probleem wat ek hiermee het, is dat dit een of ander 'broomstick' hekelwerk is........en ek het nog nooit daarvan gehoor nie (nooit te oud om te leer nie).

Hierdie een is net so pragtig, en ek het sy patroon......... so dit sal eerste op die lys wees:

Ek verdra nie iets om my nek nie, so ek sal dit maar vir ander moet maak.  Hoop net nie die "queue" is te lank nie .......heheheh!

Ek gaan nou eers gou hierdie patroon uitprobeer............. eers 'n koppie tee ............

Saturday, 18 February 2012

Oud word nuut...

My ma het vir my ouma vir Kersfees 1954 'n hekelboek persent gegee. Nou die dag het sy vir my die boek gebring want haar hande is nou te seer om te hekel.

Wat 'n juweel!

Lyk hierdie kant tafeldoek nie of mens dit kan eet nie? Dink hoe lekker kan mens jou gedagtes vlerke gee vir ander idees met hierdie fantastiese patroon.............



En dis nie al nie ........BINNE-IN hierdie boek ontdek ek toe nog twee ander juwele:




My ma het lank gelede hierdie twee patrone by iemand anders 'af-gehekel'. 
Hierdie volgende foto wys beter hoe die 'speke' 'n ry voor EN 'n ry agter het:

Hierdie terugreis het my gedagtes ver teruggevat......... Die mens is soos gras en as die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie(volgens die Bybel)....... en tog, terwyl hierdie komplekse, skeppende wese - na die Beeld van ons Vader geskape - niks is nie, is dit terselfdertyd ook ALLES! 

Geslagte en geslagte terug - tot aan die begin - het die mens die behoefte gehad om te skep, en om sy wêreld mooi te maak.  Ek wonder nou wie het 'hekel' ontdek? Wie het die eerste keer met 'n naald (of dalk net n stokkie) gesit met 'n toutjie of lyntjie of iets.....?  DIT laat mens weer wonder wie het uitgevind jy kan wol in lang stringe maak en iets daarmee maak......?

Maar wag, laat ek ophou!  Ek raak nou tel filosofies en gaan julle verveel.

En die Psalms sê dit so mooi:  "Ek loof U omdat U my so wonderlike gemaak het....."

Ek sal met die grootste liefde die boonste patroon vir iemand gee wat dit graag wil hê.  Ongelukkig kan ek nie help met die ander twee nie............ probeer maar van die prentjie af ..............'n lekker uitdaging!

Lekker hekel!

Thursday, 16 February 2012

123 blok myself....!


Vorm, vassteek en stoom......... vorm, vassteek en stoom.....oor en oor, maar my bontspul begin nou vorm kry.

Hierdie verkoue of griep of wat ook al het my nou al die afgelope 2 nagte heeltemal wakker gehad, my kop is seer en my lyf is lam ..........maar my HIPPIE KOMBERS maak op daarvoor. 

Ek raak nou opgewonde, want ek het al so baie blokke dat ek stadigaan kan begin aanmekaarsit.



 Ek gaan dit nou daar op my bed begin puzzle bou.......
 of wag ......... dalk nie 'n goeie idee so naby die bed vir iemand wat so lanklaas geslaap het nie ..............gaaaaaap!
Cheers vir nou.

Monday, 13 February 2012

'n "LETHAL" kombinasie.......!

Barney,   Rustenburg en  ingewikkelde hekelpatrone ......... 'n dodelike kombinasie. Hier waar ek voor die rekenaar sit, voel dit of iemand my proppie uitgetrek het..... en al die wind het uitgeloop.  Sjoe, ek't nie gedink een ou nawekie kan mens so platsmeer nie.  Ouderdom .....?  Uh-huh! Ek's (amper) seker dis nie dit nie .....hehehehehe!

Toe ek drie jaar oud was, sou ek wat wou gee om een van die karakters uit  my storieboeke (nog geen TV nie) 'n drukkie te kon gee, soos wat my kleindogter dit Saterdagoggend gedoen het. Barney was by die Menlyn Mall in Pretoria.  Die kleintjies het meer geskree vir Barney as die Pretorianers op Loftus. Dit was absoluut crazy!

Daarna is ons met 'n groot ompad (verbrande koordinate op die GPS) Rustenburg toe vir 'n verjaarsdag-partytjie.  Laat mens baie oud voel om familie weer te sien na 42 jaar .........Sjoe! Maar dit was 'n wonderlike kuiernaweek.

Die slapery Saterdag aand kry ongelukkig nie dieselfde punte nie. Dit was 'n wonderlike huis met 'n hemelse kamer, maar......dalk een uur se slaap vir die nag!

OORSAAK:

*  Die bed was net TE vreemd
*  Die kamer was TE lig (Ons slaap in  duisternis)
*  Die jongklomp buite op die stoep het nooit gaan slaap nie

GEVOLG:

*  'n Kop vol wol op 'n Maadagoggend!
*  'n Mandjie vol vuil wasgoed ....... als gewas .......CHECK!
*  'n Vuil huis.......silwerskoon .........CHECK!
*  Twee nuwe blokke vir kombers ......... CHECK!
Ek kla nie ........... verduidelik maar net .......





Daar is min dinge so confusing soos 'n redelike ingewikkelde hekelpatroon as die koppie so vol wol is, maar hier is die eindproduk. Darem nie te sleg nie ........

More gaan dit dalk  (gaap) weer makliker ..........en .........ek gaan nou hierdie wol uitslaap .........zzzzzzzzzzzzzzz!

Thursday, 9 February 2012

Moontlik of nie......?

Ek het nou net gesit en wonder of dit enigsins moontlik is om nog bonter te gaan met my kombers, of nie?

Mmmmmmmm ......... van my wol raak minder, so ons sal maar moet sien wat nog 'n besoekie aan die wolwinkel kan oplewer.

Ek kan nie glo ek het hierdie fantastiese wolplek 'raak-verdwaal' nie........Toeval?  Nope ........ in my lewe bestaan daar nie so iets soos toeval nie.  ALLES gebeur vir 'n rede. Ek hou nou wel nie van alles nie, en kan dit ook nie altyd uitfigure nie, maar dit help nie om daaroor te stres nie.  

Soms vat dit weke, maande, selfs jare.......en soms kom die antwoord gou.  Dankie dat die wolwinkel se antwoord GOU gekom het!........vir ander sal ek maar weereens (on)geduldig wag .........

Genoeg filosofie vir nou - en terug na my bont (genoeg?) kombers.  Ek het nog nooit van bo af ondertoe gehekel nie. Goeters werk gewoonlik van onder af boontoe.......

(En net so terloops .......Dankie ook vir YouTube! Die patrone het 'n paar nuwe tricks en goete in gehad wat ek nog nie geken het nie .....)

Hierdie patroon het omtrent met my, alreeds-deurmekaar koppie gemors maar hier is die eindproduk.  Sjoe.......waar's my sonbril?

Pienk
Donker pers
Roes
Groen
Rooi

Die blok se grootte is so 21cm x 21cm.

Die blokke vir die kombers is nie almal ewe groot nie en ook nie almal vierkantig nie,so dit gaan nog 'n  ander nagmerrie wees om dit aanmekaar te kry......

Maar dit is 'n storie vir 'n ander dag.

Intussen is ek besig om vir 'n vriendin iets te hekel.
Sy weet nie hiervan nie, en ek kan niks vertel OF wys voor ek dit nie vir haar gegee het nie.

Ek ek belowe julle vanaand hier waar ek op my rooi stoel sit:  Of sy nou daarvan hou of nie - ek gaan NIE my hoed eet nie!

Cheers.......

Monday, 6 February 2012

FRUSTRASIE!!!!!!!

Soos ek alreeds genoem het:  Ek is mal oor kleur, en nie bang om dit te gebruik nie..........



Maar een ding waarvoor ek nogal bang is, is hekel-patrone met foute......! En dan nogal baie foute!

Dit is SO 'n groot werk wat ek aangepak het, en van die blokke is nogal ingewikkeld!  Nou kan jy dink as daar nog foute in die patroon ook is!  As een rytjie 'aangepas' moet word, beinvloed dit natuurlik ook die volgende ry asook die res van die patroon...............want daar is dan te veel steke.

Hierdie vrou het vergeet om te kompenseer vir die hoekies (gewoonlik ch 3), en dis gelukkig nogal logies (alhoewel nie vir beginners nie...) maar daar is allerhande ander foute ook in.  Word patrone dan nie getoets voordat dit in sulke duur boeke geubliseer word nie?

Die plan was om hierdie kombers voor die winter klaar te maak, maar tussen die weervoorspellings (baie koud in April al!) en die foutiewe patrone, kan dit dalk bietjie langer vat. Gelukkig is ek nie bang nie (wel, nog nie....), en ek sal dit deursien, want ek wou my lewe lank al so 'n kombers gehad het.

Nou is dit net noord kyk en voortploeter tot dit klaar is. Hopelik voor 2012 se winter!

EN hierdie foute is nie die enigste UITDAGING wat ek het nie.........

So vreeslik begeesterd deur al die verskillende, wonderlike kleure daardie dag in die wolwinkel - en ek het net bolle gegryp. Ek kon behoorlik nie eers wag tot ek by die huis was, om my hande in al daardie KLEUR te kry nie .............en toe ........ o wee .........

Al die wol is 'double knit', maar dit is nie almal ewe dik nie.  Party lyk meer soos chunky en ander weer soos 4-draad, en glo my, dis nie so maklik om verskillende diktes wol in een blok te gebruik nie.

So, vanaand drink ek 'n glasie rooiwyn saam met aandete vir good luck op hierdie projek ..........

want, waar daar 'n wil is, is daar mos 'n weg!


Friday, 3 February 2012

HIPPIE DINGE ......

Ek's MAL oor kleur!  Enige kleur en die verskillende skakerings daarvan ..........My skoonpa het 'n gesegde gehad:  "Mens kry nie lelike vrouens nie - party is net baie mooier as ander!"

Ek voel presies dieselfde oor kleur. Natuurlik het ek my gunstelinge, maar al is 'n kleur nie vir jou mooi nie, het dit tog 'n plekkie iewers .....(solank daai iewers net nie in my huis is nie ....hehehe). As jy bietjie moeite doen, sal jy wel daardie 'lelike' kleur iewers in die natuur kry ........ en daar lyk dit glad nie lelik nie, want dis op die regte plek!

Toe ek 'n jong meisie was sou niemand eers daarvan gedroom het om pers en oranje, rooi en groen, ens. saam te sit nie. En later vertel hulle (wie hulle ook al mag wees...) dat pers die teenoorstaande en komplimenterende kleur van oranje op die kleurwiel is, dus staan albei baie beter uit. Wie was nou al die tyd reg en wie was verkeerd?  ............... Alles 'n klomp tjol as jy my vra!

Dis nie te se as ek van allerhande bont kleure saam hou dat dit verkeerd is nie, en dis ook nie te se JY moet daarvan hou nie........en vice versa.  Die ergste wat jy kan se is:  Sy's WEIRD!........want ek weet ek's weird en ek is TROTS DAAROP!

En dis presies hierdie weird-geit wat my nou al die bont wolle bymekaar laat gooi het.  Ek gaan UITEINDELIK vir my 'n hippie kombers hekel. Ek het gistermiddag begin ...........en dis absoluut CRAZY om sulke vreemde (verkeerde?) kleure bymekaar te gooi. Lekker!  Never a dull moment.

 
Hier is my 'stir-fry' mandjie:

     15 verskillende kleure (dalk sit en sommer
     nog by vir die fun)



Ek het gistermiddag met die eerste blokkie begin.


Nou jeuk my vingers so dat ek nie meer kan tik nie ...........

So ek se maar vir eers ........TOODLES!

Wednesday, 1 February 2012

Vreemde kleure

Waar is die dae toe baba kombersies ligpienk of ligblou was? 

My skool het seker heeltemal te lank terug uitgekom, maar dis nou nog vir my 'magic' om babatjies in ligblou, -pienk, -geel, en 'n sagte babagroen te sien.  Babatjies moet SAG lyk en voel, en lekker ruik. Dit is vir my sinoniem met skone onskuld en perfektheid, amper onwerklik .......

 Daar is heeltemal genoeg tyd vir donker, harde kleure wanneer hulle groter word en self besluit wat hulle wil aantrek.........maar nou ja..........

Ek wil my nou nie regtig soos 'n oumatjie gedra nie, want dan gaan die jong klomp vir my lag (wat hulle in elk geval een of ander tyd gaan doen...!) en toe maak ek die pienk en pers bietie donkerder vir hierdie kombersie.  Ek weet nou nog nie of ek baie mal is daaroor nie, en ek hoop maar die mamma gaan dit 'aanvaarbaar' vind. (sjoe, want dit is 'n groot werk)

Ek ken nie regtig die mamma nie (net van sien  - dalk drie of vier keer).  Dit is my beter helfte se baas, en sy kom so dan en wan hier by die woonstelblok 'n draai maak.

En ek het nou SO gereken:  Ek het tog nie veel anders om te doen nie, wat eintlik 'n klein wit leuentjie is, want daar is baie om te doen, maar my rug is te seer om dit te doen, so sit en hekel is die in-ding (nie dat ek te hard kla nie). 

Terwyl ek so sit en werk aan hierdie skepping sonder 'n patroon, stap my gedagtes op ver paaie:  Gaan sy al hierdie harde werk waardeer?  Wat weet sy van handewerk af?  Gaan sy dink die kleure is outyds? Waardeer hulle al die ure wat hierin gegaan het? Dalk sou pers en oranje meer aanvaarbaar gewees het .......en SO dryf ek myself 'n paar keer teen die mure uit!

Op 'n kol besluit ek toe:  BASTA hiermee!  As niemand meer handgemaakte goetertjies maak nie, hoe sal die jonges van vandag enigsins weet dat goed wel met die hand gemaak KAN word. Alles kom mos van China af!  Gaan Google dit net......en siedaar!

Maar daar is geen 'siel' daarin nie. Elke gedagte van die skepper van 'n handgemaakte artikel is vasgeweef in elke stekie (party goed, party sleg, party ook hartseer en bly). Is dit nie dalk net moontlik dat die klein mensie wat onder hierdie 'gedagte-kombersie' slaap, so 'n bietjie van 'n ander siel kan voel nie?  Alles is tog so afgejaag en plasties vandag.

En terwyl ek hier tik, besluit ek dat dit nie saak maak wat sy of enigiemand anders hiervan dink nie. Hierdie twee hande het dit gemaak.  Daar is energie is. Ek sal waarskynlik nooit die babatjie ken of haar ooit  sien nie, maar dit maak nie saak nie -

 Ek weet elke stekie is geweef met die doel dat dit die ontvanger hiervan se wereld 'n bietjie beter sal maak ............... en dis AL wat saakmaak...............

Tuesday, 31 January 2012

Van Bytjies en Blommetjies .......

Soms is ek net nie ingenome met 'n eindproduk nie, (soms is dit meer as net soms) en dit is nou een van daardie "soms".

Partymaal lyk dit vir my of  goeters tog 'n wil van hulle eie het, want die prentjie wat ek in my kop het van iets, en die eindproduk is selde dieselfde. Dalk is die prentjies in my kop net TE kleurvol en perfek - en watter mens kan nou daarby uitkom?

'n Leiklip-vloer kan nie so hard wees soos wat ek soms ......(ok, meeste van die tyd) op myself is nie.  Alles moet mos perfek wees, anders is dit nie reg nie. Hallo .......wake up and smell tthe coffee ......... (maar ek wil cuppacino he, en NIE net Ricoffy nie)......NIEMAND is perfek nie! ........(Hoekom nie?.....)

Maar my blommetjies is gehekel en hulle moes op die kussing kom ........nou's hulle op die kussing.......en O wee!  Een van die minder suksesvolle pogings..........Dalk is dit net my bio-ritmes wat weer woer-woer speel, maar ai!

Hoe (on)perfek dit ook al is, hier is dit wat toe glad nie lyk soos in my kop nie ......


Hopelik is die babakombers waaraan ek nou werk beter ....... of dalk voel EK dan net beter....!

Enige iemand vir 'n kussing........?

Wednesday, 25 January 2012

Die vingers is besig!

Daar is darem min dinge so lekker as om die hekelpen te vat en iets mooi daaruit te skep. En terwyl jy besig is, loop jou gedagtes op ver paaie. Daar maak dit snaakse draaie in jou hartkamers ........ soms pyn-gedagtes, maar dis net vlugtig en gaan net saggies verby. Gou-gou is dit weer op 'n ligter plek met net mooi herinneringe. Mens kan nie by negatiewe gedagtes rondhang terwyl jy besig is om iets mooi te skep nie.....(ek praat nou nie hier van 'n diep en donker skildery nie, dis 'n storie vir 'n ander dag)

My blommetjies vorder fluks:


Dalk dink julle die kleure is weird, maar dit sal wel
alles bymekaar kom as ek klaar is.

Nog so klompie om te gaan.............

Intussen:  Moenie dat die wol in die kas opraak nie!

Groetnis.







Friday, 20 January 2012

Nuwe inspirasie

Ek was so geinspireer deur fotos wat ek op 'n vriendin se blog gesien het, dat ek sommer dadelik die wol naderge"HAAK" het.  Dis reg ............. dis tyd om te hekel. Dankie Elsa vir jou inspirasie!

Ek het besluit om nie 'n TE groot projek aan te pak nie, want hoe groter dit is...... hoe meer blommetjies moet ek hekel. Was ek verbaas!  Dit gaan eintlik baie vinnig en sommer tjop tjop was daar 'n hele klompie blommetjies klaar.

Hier is drie van die blommetjies in wording:


 Tussen die blommetjies hekel deur was daar darem ook 'n tydjie afgeknyp vir 'n tydskrif........en daarin het ek op hierdie oulike klein skoenlappertjie patroon afgekom. Nodeloos om te se, het ek sommer dadelik die hekelpen gegryp en hier is die eindresultaat:
Dit is vir my so oulik (en maklik), dat ek sommer besluit het om die patroontjie hier op te sit vir die wat dit wil gebruik:

Onthou: dit is 'n klein skoenlappertjie.
Ek het double knit wol gebruik en 'n 3.5 mm hekelpen.

Hekel 5 ks, gls in 1e ks om 'n ring te vorm.
Hekel (3 ks, 3 dsl, 1 lb, 2 ks, gls) in die ring,
*(2 ks, 3 lb,1 ks, gls) in ring*. Herhaal nog een keer van * tot *.
(2 ks, 1 lb, 3 dsl, 2 ks, gls) in die ring.
Heg af.
Gebruik 'n kontraskleur om die skoenlapper se lyfie en voelers te vorm.

Maklik en vinnig!

Ons sal weer gesels as al my baie blommetjies klaar gehekel is.  Geniet intussen julle Vrydag en.......
laat die brei- en hekelpenne kletter!
Groetnis.

Wednesday, 18 January 2012

Denim...... o, wonderlike denim!

Ek is mal oor denim. Jy sien my baie min in iets anders as jeans en een of ander nice toppie. Dus het ek besluit om vir myself 'n lekker denim handsak te maak........maar ek moet bieg, dis meer van 'n "doedelsak" as 'n handsak, maar ek hou van "doedel".  Ek dink as ek ooit op 'n eiland moet uitspoel sal ek redelik kan oorleef met my handsak inhoud........daar is darem nooit kos in nie....... Al probleem is - my arme man moet dit gewoonlik dra as ons ver loop, want my rug ...... maar leer is min!

MAAR........ ek haat mense wat "brand-name" verskrik is! Watse ding is 'n ontwerpers jean of 'n ontwerpers handsak nou eintlik?  Dis ook net 'n denim broek waar jy albei jou twee bene insteek, met 'n zip voor en twee sakke op die alie. Selfde met die handsak: Dis ook net 'n sak waarin jy jou goodies kan ronddra. Ooooooo, maar daar IS 'n verskil, se die slimmes: Die NAAM en die KWALITEIT. Bulldust!
Ek het al 'name-brand' goed gesien wat ek nie verniet wil he nie. Dit lyk soos 'n ou uitgewaste stuk flenterlap ..........en dan moet jy SULKE geld daarvoor betaal, sodat ander mense moet dink jys "GRAND"!
Hoe leeg IS ons mense se koppe.  Ek sien by die materiaal winkel allerhande aanstrykgoed en vaswerkgoed in enige fancy "brand" waaraan jy kan dink. Koop dit, stryk dit.... of werk dit .....en VIOLA!...... Jy gaan 'n hele paar mense bull@$#%!it  en OOK JOUSELF!




Ek het besluit om dit binne ook
 bietjie meer fun te maak.
Bank-kaarte, Dischem-kaarte, Clicks-kaarte, Pick & Pay-kaarte, en wie weet wat se kaarte nog alles (dankie tog dis nie alles 'n klomp skuld nie!) gee regtig vir my 'n pyn op plekke waar ander mense nie eers plekke het nie .........Ek moet altyd deur honderde kaarte soek om die regte een te kry wat ek NOU wil gebruik. Toe besluit ek om iets te probeer. En dit het OMTRENT kopkrap gekos, maar so lyk die resultaat en dit pas sommer los in die sak:

Glo my, na drie dae se werk is ek bly dis klaar. Dit was 'n groot werk, maar alles die moeite werd.  Daar is min goed SO lekker as om enigiets wat jy maak, klaar te sien. Geen geld kan dit koop nie.  Ons mense wil nou maar eenmaal skep.

Ek sal nooit verstaan dat daar mense is (en ek ken sulkes) wat net mooi niks maak nie. Ek voel jammer vir hulle, want hulle sal nooit die satisfaksie ken wat ons 'skeppers' ken nie. Almal hoef nie noodwendig te dink jou skepping is mooi of prakties nie, maar dit maak nie saak nie.......solank jy daarvan hou ........dit is AFTER ALL joune!

Intussen jeuk my hande om iets anders te begin....... so ek kan nie nou meer verder gesels nie ........my lap en sker wag ...............